1En Naomi het 'n bloedverwant gehad van haar man se kant, 'n vermoënde man, uit die geslag van Elim,leg, wie se naam Boas was. 2En Rut, die Moabitiese, het vir Naomi gesê: Laat ek tog die land ingaan en are optel agter die een in wie se oë ek genade sal vind. Toe antwoord sy haar: Gaan my dogter. 3Daarop het sy heengegaan, en gekom en are opgetel op die land agter die snyers. En gelukkig kom sy op 'n stuk land af wat behoort aan Boas, uit die geslag van Elim,leg. 4En Boas het juis van Betlehem af gekom en aan die snyers gesê: Mag die HERE met julle wees! En hulle het hom geantwoord: Mag die HERE u seën! 5Daarop sê Boas aan sy dienaar, die opsigter oor die snyers: Van wie is hierdie jong vrou? 6En die dienaar, die opsigter oor die snyers, antwoord en sê: Dit is die jong Moabitiese vrou wat saam met Naomi uit die veld van Moab teruggekom het; 7en sy het gesê: Kan ek maar are optel en insamel by die gerwe agter die snyers? Sy het toe gekom en gebly van vanmôre af tot nou toe; sy het maar min daar in die huis gesit. 8Toe sê Boas vir Rut: Luister tog, my dogter: jy moenie op 'n ander land gaan are optel nie, en jy mag ook nie hiervandaan weggaan nie; maar jy moet jou by my diensmeisies aansluit. 9Met die oë op die land wat hulle afsny, moet jy agter hulle aan loop. Het ek die dienaars nie bevel gegee om jou nie aan te raak nie? En as jy dors het, gaan dan na die kanne en drink van wat die dienaars skep. 10Toe val sy op haar aangesig en buig na die aarde toe en sê vir hom: Waarom het ek genade in u oë gevind, dat u in my belang stel alhoewel ek 'n vreemdeling is? 11En Boas antwoord en sê vir haar: Aan my is alles omstandig vertel wat jy aan jou skoonmoeder gedoen het n die dood van jou man, en dat jy jou vader en jou moeder en jou geboorteland verlaat het en na 'n volk getrek het wat jy gister en eergister nie geken het nie. 12Mag die HERE jou daad vergelde, en mag jou loon volkome wees van die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het. 13Toe sê sy: So vind ek dan genade in u oë, my heer! Want u het my getroos en na die hart van u dienares gespreek, alhoewel ek nie soos een van u dienaresse is nie. 14En teen etenstyd het Boas vir haar gesê: Kom hierheen en eet van die brood en steek jou stukkie in die asyn. Daarop gaan sy langs die snyers sit, en hy het haar gebraaide koring gegee, en sy het geëet en versadig geword en oorgehou. 15Toe sy weer opstaan om are op te tel, het Boas sy dienaars bevel gegee en gesê: Sy mag ook tussen die gerwe optel, en julle mag haar nie beledig nie. 16En julle moet ook so nou en dan vir haar uit die bondels uittrek en dit laat lê, dat sy dit kan optel; en julle mag haar nie keer nie. 17En sy het op die land opgetel tot die aand; en toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit omtrent 'n efa gars. 18En sy het dit weggedra; en toe sy in die stad kom, sien haar skoonmoeder wat sy opgetel het; ook het sy uitgehaal en aan haar gegee wat sy oorgehou het nadat sy versadig was. 19Daarop vra haar skoonmoeder haar: Waar het jy vandag opgetel, en waar het jy gewerk? Mag hy geseënd wees wat in jou belang gestel het! En sy vertel haar skoonmoeder by wie sy gewerk het, en sê: Die naam van die man by wie ek vandag gewerk het, is Boas. 20En Naomi sê vir haar skoondogter: Mag hy geseënd wees deur die HERE, wat sy guns aan lewende en dode nie onttrek het nie. Verder sê Naomi vir haar: Die man is ons nabestaande, hy is een van ons lossers. 21Toe sê Rut, die Moabitiese: Hy het ook nog vir my gesê: By my dienaars moet jy aansluit totdat hulle klaar is met die hele oes wat aan my behoort. 22Daarop het Naomi haar skoondogter Rut geantwoord: Dit is goed, my dogter, dat jy met sy diensmeisies saam uitgaan en aan jou geen kwaad op 'n ander land aangedoen word nie. 23So het sy dan by die diensmeisies van Boas aangesluit om are op te tel totdat hulle met die gars-oes en die koringoes klaar was; en sy het by haar skoonmoeder gewoon.