1En die engel wat met my gespreek het, het teruggekom en my gewek soos 'n man wat uit die slaap opgewek word. 2En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar 'n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is. 3Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan. 4Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer? 5En die engel wat met my gespreek het, antwoord en sê vir my: Weet jy dan nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer. 6Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubb bel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare. 7Wie is jy, groot berg? Voor Serubb bel sal jy tot 'n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom! 8En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: 9Die hande van Serubb bel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het. 10Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe -- die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop -- met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubb bel? 11Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan? 12En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom? 13Toe antwoord hy my en sê: Weet jy nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer. 14En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan.